Go Deep 26 Oktober 2025

FAMILY FOCUS

Neville Goodchild

Die orde van aantrekking in liefdesverhoudings uit die boek Hooglied

 

Dag 1: Alles Nuut

Die Herder sorg vir sy kudde en maak seker dat hulle die regte weiding kry. In sekere seisoene, wei die skape op sekere plekke en nie op ander plekke nie, ter voorbereiding vir die nuwe seisoen wat voorlê. Só is dit vir ons ook belangrik om die regte voeding te kry in hierdie seisoen vir ’n volgende seisoen wat aanbreek.

In hierdie seisoen kry ons voeding wat ons verhoudings stimuleer. Hierdie voedsel is belangrik vir onsself. Ons het nodig om hierdie Goddelike waardes en rykdomme deel van ons eie lewens te maak, voordat ons begin luister en oplet namens ander mense. Ons het nodig om vir onsself te hoor, sodat ons nie mis wat die Here doen nie. Dán kan ons ander ook help, omdat ons toegerus is.

Wat van uiterse belang is, is dat ons toelaat dat die Here ons leer en groei, sodat ons vooruitgaan in ons verhoudings. Goddelike waarhede is nie daar, vir veroordeling nie. Ons almal maak baie foute. God fokus nie op ons verlede nie. Inteendeel, Jesus het reeds vir al ons sonde gesterf. Daarom het ons nie nodig om vas te haak by ons eie foute nie. Dít help ons nie om vorentoe te beweeg nie.

Woord waarhede is ook nie daar, sodat ons dit kan gebruik as wapens om onsself te verdedig of om die oorhand oor ander te kry nie. Dit is daar om ons te help om te groei en gesonde verhoudings te koester.

Die verlede is veroordelend. Só is jou poging om te gryp na die verlede, ook altyd veroordelend. Wanneer jy so ’n ingesteldheid handhaaf in jou verhoudings, hanteer jy konflik op ’n ongesonde manier. Wanneer jy in die verlede vashaak is daar altyd seer, verwyte en bitterheid. Om vinger te wys en te beskuldig, hou die verhouding op ’n ongesonde plek.

Daar is gesonde maniere om konflik te hanteer. Die vertrekpunt of jou ingesteldheid, moet wees soos jy beloof het op jou troudag: “from this day forward”. Dít is die plek waar jy jou wil posisioneer in jou huwelik. Jy wil saam met jou eggenoot vasmaak, dat julle hierdie konflik nou hanteer met die uitgangspunt: “From this moment forward”. Dit is die vertrekpunt wat nodig is.

Die Woord is genade, en genade en God se voorsiening is vir die pad vorentoe. Wanneer God praat is dit altyd met genade en voorsiening vir die toekoms. Hy maak alles nuut (Klaag. 3:22, Open. 21:5)!

Lees:

Klaag. 3:22

Open. 21:5

Mediteer:

  • Is daar verlede seer wat jy en jou huweliksmaat moet vergewe?
  • Hoe kan jy God se genade wat nuut is elke dag, in jou verhouding toepas?

Bid:

Vader, U beginsels is goed en betroubaar. Dankie dat U genade en voorsiening elke dag nuut is en dat U ook hierdie beginsel in my vasmaak. Dat ek elke dag opnuut genade kan uitdeel vir my geliefdes en kans sien om te sê: “from this day forward”. U genade is genoeg! Amen

Bonus: Spreek Lewe!

God se genade bly nuut elke dag, daarom is my genade vir my geliefdes ook elke dag nuut!

Aanbidding:

Mercies – Matt Redman

Dag 2: Shulam > Shalam > Solom

Wat is die orde van aantrekking in liefdesverhoudings?

As ’n jong man na ’n jong dame kyk en haar aantreklik vind, wat is die orde van sy lewe? Wat bly die prioriteit en belang, selfs wanneer hy met haar trou?

Ons het nodig om praktiese beginsels te leer, sodat ons vervulling in ons liefdesverhoudings kan beleef. God het beginsels in plek gestel wat reg is en wat werk! Sy Woord gee lewe en Sy waarheid werk vir ons liefdesverhoudings. As ons die beginsels nie verstaan nie, dan kry ons seer, raak bitter en sukkel met verwyte. Ons raak emosioneel verwaarloos binne ons huwelikke en verstaan nie wat die orde, die prioriteite van aantrekking binne ons huwelik is nie.

God se manier, Sy orde, bring vervulling en volkomenheid binne ons liefdesverhoudings.

In hierdie hoogste skrywe in die Joodse literatuur (Hooglied), probeer Salomo vir sy volk wysheid gee, wat sy volk red. Hy sien hoe sy mense leef en hoe hulle lewens verwoes word. Daarom probeer hy deur sy digkuns hulle iets te leer van hoe God die man en vrou gemaak het om te funksioneer. Hierdie literatuur word geken as ’n studie van die mens se liefdesverhoudings. Daar is iets om te leer om te verstaan, wat die Here deur Hooglied wil openbaar. Mense lees nie sommer Hooglied nie, omdat dit moeilik is om te onderskei wie praat en hoekom, wat nou eintlik gesê en bedoel word. Ons maak ’n studie van hierdie boek om te verstaan wat die Here aan ons wil openbaar oor ons liefdesverhoudings.

Uit Hooglied 1 sien ons drie karakters: die skrywer is Salomo, die man (die liefling, die Koning, the lover); die meise (vrou, Shulamite woman, die meisie van Jerusalem); en die vrouens (gehoor, meisies van Jerusalem, die vriendinne of dogters van Jerusalem).

Die vrouens: is soos die koor in die agtergrond; mense wat kleur gee en dinge natuurlik maak. Ons kry inspirasie en motivering uit die gehoor van mense in ons lewens.

Die meise: Shulamite woman (SLM) – the lady/girl of Jerushalem (SLM). Die meisie se sterkste verwysing is haar herkoms en dit is Jerusalem. Salomo gee haar nie ’n naam in sy skrywe nie, maar Salomo se naam het dieselfde herkoms.

Die man: se naam is Soloman (SLM). Shulam – Shalam – Solom is elkeen variasies van dieselfde term (SLM). So ook is Shalom > Salem > Vrede / Jerusalem > Stad van Vrede, dieselfde basis woord wat aangebied of gevra word.

In Hooglied 8:10 lees ons die hoogtepunt van hierdie boek op ’n emosionele vlak. Hooglied bou nie net op in ’n behoefte wat seksueel van aard is nie, maar dit bou ook op die vervulling van ’n behoefte op emosionele vlak. Die behoefte word aan beide kante vervul. Hoofstuk 8 wys vir ons die doel, die motief, die hoogtepunt van Hooglied:

“toe het ek in sy oë geword soos een wat vrede vind” (Hoogl. 8:10).

Dit is hoekom Salomo (die een wat vrede bring), in Jerusalem (die stad van vrede), ’n meisie (van vrede) in Jerusalem gaan kies en haar nooit ’n naam gee nie. Sy bly die meisie van vrede. Die hele hoogtepunt van hierdie gedig is “toe ons vrede vind”.

Ons het nodig om te leer wat die Koning vir sy volk probeer sê, want Salomo, soos ander leiers, het gesê dat die basis, die kern van gesin, die hoop vir die nasie is. Salomo leer sy mense in die eggo van sy naam (SLM), om die volk se aandag te trek om te sê: “hoor julle en sien julle, hierdie is ons almal wat vrede soek, se realiteite. Hier is die beginsels en hoe dit moet werk as ons vrede soek in ons belangrikste verhoudings”.

’n Verhouding is veronderstel om vrede te bring in my hart en in my huis, in my konteks en in my lewe. Eerstens in my verhouding met God en tweedens in my huwelik. Die huwelik moet ’n bron, ’n fontein word waaruit vrede vloei. As die dividende, dit wat ek beleef ná die tyd in ’n verhouding nie vrede bring nie, is daar fout.

Want dit is wat ons wil hê en dit is wat ons nodig het. Vrede in en uit ons liefdesverhoudings is Goddelik.

Lees:

Hoogl. 8:10

Mediteer:

  • Wat is die beginsels wat ons moet leer uit Hooglied?
  • Wat het die drie rolspelers van Hooglied in gemeen?
  • Hoe lyk jou realiteite? Ervaar jy vrede in jou liefdesverhouding?
  • Wat is uit plek en wat kan jy prakties doen om jouself te belyn?

Bid:

Here, U bring die beginsel van vrede in my liefdesverhouding. Jesus, U ís Prins van Vrede en U het gesterf, sodat ek U vrede kan erf! Here ek vra dat U herstel sal bring waar daar onvrede is in my verhouding, en dat U orde in my lewe sal regeer. Help my om prakties te word in die toepassing van U beginsels in my lewe en om myself te belyn met U. Amen

Bonus: Spreek Lewe!

Die beginsels van Hooglied is toepaslik in my huwelik!

Aanbidding:

Shalom – Bridge Worship

Dag 3: PG13 – Orde van Intimiteit

Salomo probeer deur digkuns, repitisie en die manier waarop hy woorde en metafore gebruik, dinge vir ons uitlig wat ons nie moet mis nie.

In Hooglied 1 se openingsvers sê die meisie in Vers 2: “Laat hy my kus met kusse van sy mond; want u liefde is kosteliker as wyn.” In ander woorde sê sy: “Jy en jou teenwoordigheid, jou liefde, is beter as wyn. Dit is meer voortreflik”.

Wat sy hier vir die man sê, is dat sy teenwoordigheid in haar lewe belangriker is as ander dinge. Waarvan ons moet kennis neem in hierdie vers is dat die manier waarop jy jouself aanbied en gedra, ’n groot invloed het in jou verhouding. As jou teenwoordigheid nie ’n aangename geur en atmosfeer in die huis bring nie, gaan liefde die prys betaal. Dit gaan jou sekslewe beïnvloed. Intimiteit begin nie in die aand wanneer die ligte afgaan nie. Dit begin wanneer jy opstaan in die oggend. Hoe jy jouself versorg, kommunikeer, mekaar oppas en komplimenteer, jou ligaamstaal en jou stemtoon, wat jy toelaat en nie toelaat nie, bepaal of jy ’n lieflike geur afgee. As jou teenwoordigheid spanning veroorsaak, sal dit implikasies hê in jou intimiteit. Hierdie tipe spanning bring ’n belewenis van verwaarlosing en misbruik, en dit werk na beide kante toe in ’n verhouding.

Vers 3: “U salf is aangenaam van geur, u naam is soos salf wat uitgegiet is; daarom het die jonkvroue u lief.”

Sy besef dat dit die realiteite van die lewe is, dat hy aantreklik is vir baie ander ook. Dit is nie net sy wat dink hy is oulik nie. Besef dat jy en jou eggenoot ’n belewenis agterlaat, wat aantreklik is vir ander. Ander vind hom/haar ook aantreklik en aangenaam.

Vers 4: “Trek my agter u aan, laat ons gou maak! Die koning het my in sy binnekamers gebring. Ons wil juig en ons in u verheug, ons wil u liefde prys meer as wyn. Met reg het hulle u lief.”

Sy herhaal dat sy besef waarom hy so aangenaam is en sy hom so aantreklik vind. Sy beleef iets in hierdie verhouding wat oppad is om meer intiem te word. Van die begin af noem sy hierdie behoefte, dat daar ’n dieper intimiteit moet wees en dat dit seksueel raak. Hierdie is ’n realiteit van verhouding.

Vers 5-6: “Ek is bruin gebrand maar lieflik, o dogters van Jerusalem, soos die tente van Kedar, soos die gordyne van Salomo. Moenie na my kyk omdat ek so bruinerig is, omdat die son my verbrand het nie: die seuns van my moeder was toornig op my; hulle het my aangestel as oppasser van die wingerde; my eie wingerd het ek nie opgepas nie”.

Die oomblik wat sy die behoefte toon, of wat die persepsie is, dat dinge meer intiem raak, kommunikeer sy iets oor haarself. Sy word selfbewus en beskryf haar selfbeeld. Sy beskryf haar eie liggaam, en dat sy die wingerde daar buite opgepas het, maar nie kon kyk na haar eie nie. Sy noem dit, omdat dit só belangrik is. Dit is belangrik om mooi na jouself te kyk en dat jou liggaam vir jouself aantreklik is, want hierdie speel ’n belangrike rol in jou belangrikste verhoudings. Dit is belangrik in jou huwelik.

Sy sê: “Ek weet jy gaan my sien, maar moet nie vaskyk in wat jy sien nie”.

Hierdie meisie bring vir ons orde in aantrekking. Sy lig vir ons uit dat ons Geestelikheid, aantreklik is!

Lees:

Hoogl.1:1-6

Mediteer:

  • Hoe bestuur jy die atmosfeer in jou huis?
  • Hoe beïnvloed jou optrede, hoe jy jouself aanbied vir jou eggenoot, jou intimiteit met hom/haar?
  • Wanneer begin intimiteit en hoekom?
  • Hoekom is dit belangrik vir die vrou om eers oor haar selfbewustheid te praat, die oomblik wat die verhouding meer intiem raak?

Bid:

Vader, dankie dat U ons man en vrou gemaak het om mekaar aan te vul en ’n vlak van intimiteit te beleef wat Goddelik is. Help my asseblief om myself reg aan te bied vir my eggenoot, sodat ons Goddelike vervulling kan beleef in ons huwelik. Amen

Bonus: Spreek Lewe!

My bydrae in my liefdesverhouding, bepaal die intimiteit en ook die vlak van vervulling in my verhouding.

Aanbidding:

Let My Life Be Worship – Bethel Music

Dag 4: Die eerste prioriteit van liefde

Geestelike aantreklikheid!

In vers 5-6 leer Salomo in sy wysheid vir ons dat die eerste prioriteit van aantrekking, geestelike aantreklikheid, is. Ons het ’n geestelike aantrekkingskrag.

Ons sien uit hierdie gedeelte van Hooglied dat dit wat ’n man se aandag eerste trek, die meisie se fisiese voorkoms is. Ons sien dat sy gereed is vir hierdie verhouding om intiem te word. Dan is daar ‘n draai om te sê dat hy nie net na haar uiterlike moet kyk nie, maar dieper moet kyk. Daar is meer wat sy wil hê hy moet raaksien voordat hulle intiem kan wees. Hierdie is ’n beginsel vir ons huwelik. Die vrou sê: “Ek is mooi binne my, en ek het iets meer om te bied as net die fisiese wat jy sien.”

Vir ’n man gaan dit oor wat hy sien. Omdat ’n man so bedraad is om eerste aangetrokke te wees tot die uiterlike van ’n vrou, is dit belangrik vir ’n jong man om seker te maak dat die meisie na wie hy kyk, vir hom mooi is. Dit is belangrik, maar nie die belangrikste nie, en ook nie waar ’n verhouding moet begin nie. Fisiese aantreklikheid is kortstondig, dit vergaan met tyd.

In vers 7-8 sê die meisie dat sy nie soos ’n prostituut wil wees nie, maar dat sy deursigtig wil wees en wil weet waar sy met hom staan. ’n Vrou is meer aangewese op haar emosionele belewenis en wat sy oor haarself hoor. Jy as man kan egter nie, soos in vers 9 (2000 jaar gelede geskryf), jou vrou vergelyk met ’n perd nie. Dit sal nie so goed afgaan nie.

Ons geestelike kapasiteit en ons geestelike aanbidding is aantreklik, dit is die mooiste wat ons van mekaar sien en ook die veiligste deel en die hoogste sekuriteit in ons aantrekking na mekaar toe.

Die eerste prioriteit van die liefde is geestelike aantrekking. Daar is drie maniere waarop jy aan jou geestelike aantreklikheid kan werk, sodat die fisiese nie al is wat jy het om te bied nie, en jou getrouheid by een persoon kan bly:

  1. Aanbid God met jou hele hart, verstand en al jou krag. Jou aanbidding is aantreklik vir God en daarom ook aantreklik vir jou geliefdes!
  2. Raak betrokke by die kerk. Neem deel, leef jou geestelike gawes uit en doen dienswerk.
  3. Aanbid saam. Jou aanbidding is aantreklik vir God en daarom is dit ook aantreklik vir jou geliefdes!

Dit is vir kinders belangrik om te sien hoe lief ’n pa en ma mekaar het en dat hulle saam aanbid. Daar gebeur iets tydens aanbidding wat ’n huwelik herstel, reset, versoening en eenheid bewerk. Die rede daarvoor is omdat ’n huwelik se primêre aantrekking in die geeswêreld is. Dit is eerste ’n geestelike verbintenis. In aanbidding bring God se teenwoordigheid orde en belyning.

Jou geestelike aantreklikheid moet jou eerste prioriteit wees. Vir jou huwelik om lewensvatbaar te wees, moet daar ’n geestelike basis wees, en jy het nodig om hierdie geestelikheid by die Here te voed!

Lees:

Hoogl.1:5-9

Mal. 2:15

Mediteer:

  • Hoe lyk jou geestelike aantreklikheid? Is daar ’n gedeelte wat jy afskeep?
  • Wat gaan jou eerste stap wees om dit reg te stel?
  • ’n Huwelik profiteer oor Jesus “Hy bly getrou maak nie saak wat nie, Hy kom altyd terug na jou”. Dit is daarom belangrik dat ons huwelike in ons gemeenskap sal eer. “So guard the spirit of marriage within you” (Mal. 2:15).

Bid:

Vader, dankie vir die gees kapasiteit wat U vir my gee en dat daar maniere is om in hierdie kapasiteit te groei. Dankie dat U eenheid in my huwelik herstel. Dat U vir my huwelik is en dat dit U wil is dat my huwelik floreer. Dankie dat U my huwelik beskerm en dat ek ook die gees van huwelik kan eer en beskerm. Amen

Bonus: Spreek Lewe!

Ek het ’n geestelike aantreklikheid wat ek net by die Here kan voed, en wat my huwelik red!

Aanbidding:

I am loved – Mack Brock

Dag 5: Die tweede en derde prioriteit van liefde

Prioriteit 2: Emosionele aantreklikheid!

Die meisie sê in hierdie eerste gedeelte van Hooglied al: moenie ’n verhouding bou op hoe ek lyk nie — dit gaan nie werk nie. Die geestelike is eerste.

In die tweede beskrywing, alhoewel daar ’n moontlikheid van intimiteit is, het hulle nog nie oorgegaan tot die daad van intimiteit nie. Dit lyk of dit die natuurlike gang van die verhouding is, maar ons sien eers in hoofstuk 4 dat hulle oorgaan na die fisiese. Die man reageer deur haar eers emosioneel te ondersteun en te wen. Hy beskryf haar met die mooiste woorde, en sy reageer emosioneel.

Emosionele aantreklikheid is tweede.

In jou huwelik is dit die tweede prioriteit. Ons moet nie die emosionele verwaarloos en dink dat ons fisies by mekaar kan uitkom, maar mekaar emosioneel afskeep nie.

Daar is drie maniere om emosionele aantrekking in jou liefdesverhouding te koester:

  1. Waardeer mekaar: Komplimenteer mekaar op dit wat die ander een reg doen. Kyk uit vir dit wat jy waardeer in jou eggenoot. Kritiek en die verkeerde fokus help jou verhouding nie om te floreer nie, en dit help ook nie jou eggenoot om te verander nie. Fokus op dit wat vir jou eggenoot natuurlik kom en wat hy/sy goed doen.
  2. Spreek lewe oor mekaar.
  3. Bevestig julle liefde vir mekaar. Doen dit konstant en moenie terugkyk en op die verlede fokus nie. Die uitgangspunt is altyd: “From this day forward”.

Prioriteit 3: Fisiese aantreklikheid!

Dit is slegs wanneer die geestelike instellings en waardes eerste gestel word, en emosionele betrokkenheid en ondersteuning tweede, dat fisiesie intimiteit en seksuele aantreklikheid lewensvatbaar is — en is wat God bedoel het dit moet wees.

Aanbidding is goed vir jou huwelik, nie net vir jou geestelike lewe nie. Daar is ’n korrelasie tussen seks en aabidding. Dit is hoekom dit so belangrik is om die huwelik te eer. Dit is heilig, want dit is ’n plek van aanbidding. In aanbidding word jy een met God; in seks word jy een met jou eggenoot. Dit is wat jy vier in jou huwelik — dit is Goddelik!

Dit is vir die sukses van jou huwelik van uiterste belang om die prioriteite wat God daargestel het, te eer. Om die hoogste vlak van intimiteit met jou eggenoot te deel, is aanbidding vir God en bring vrede. Jy wil nie hierop uitmis nie. Dit is die mees vervullende, Goddelike intimiteit, wanneer jy God se prioriteite eer. Dit behaag God, maar dit behaag jou eggenoot en jouself ook!

As jy nog jonk is, fokus op die geestelike aantreklikheid van jou verhouding. Fokus om te groei in jou emosionele aantreklikheid, en maak seker dat die tyd reg is — volgens God se orde — voordat jy die liefde op ’n fisiese intimiteitsvlak wakker maak.

“Laat sy linkerarm onder my hoof wees en sy regterarm my omhels. Ek besweer julle, dogters van Jerusalem, by die gemsbokke of by die takbokke van die veld, om nie die liefde wakker te maak of op te wek voordat dit die liefde behaag nie.” (Hoogl. 2:6-7)

Lees:

Hooglied 2:6-7

Mediteer:

  • Hoekom is daar twee prioriteite waaraan daar aandag gegee moet word, voordat fisiese aantreklikheid lewensvatbaar is?
  • Op watter manier kan jy werk aan jou emosionele aantreklikheid binne jou huwelik of liefdesverhouding?

Bid:

Vader, dankie vir U Goddelike orde wat my huwelik/liefdesverhouding laat floreer. Ek wil graag my geestelike groei prioritiseer en dan saam met my eggenoot of die persoon met wie ek ’n pad wil stap, U soek met my hele hart, siel en krag. Ek wil U aanbid binne my verhouding en vra ook dat my lewensmaat U soek en U aanbid met alles wat hy/sy is. Here, leer my om aandag te gee aan my emosionele groei en om emosioneel volwasse te word. Help my om te fokus om my lewensmaat se belange eerste te plaas. Help my om die waardes wat U vir my neerlê na te streef, sodat ek die toppunt van vervulling in my huwelik kan beleef. Amen

Bonus: Spreek Lewe!

Om God se prioriteite te eer, bring die hoogste vervulling in my lewe!

Aanbidding:

Make Room – Community Music