Fokus op Familie
Neville Goodchild
Dit is tyd dat ons hieroor praat
Dag 1: Nagmaal – Kom tafel toe
Ons lofprysing vanoggend het begin met ʼn lied wat hierdie skrywer driftig laat saam sing, al het sy sang juffrou op skool in trane uitgebars oor sy en sy beste vriend se pogings om stem en noot saam te sit. Die wonder van kerk. Prys die Here uit volle bors, want dit gaan nie oor hoe goed jy sing nie, ons liefde vir die Here is nie ʼn kompetisie om iemand te beïndruk nie, dit is rou, eerlike hart-ontbloot vir die Here. Die Here is nie ʼn stem-beoordelaar nie, Hy wil ons help om karakter te bou, in Sy naam. Dit is lekker om in ʼn plek te wees waar niemand omgee oor jou stem, jou kleredrag, of die voertuig waarmee jy opgedaag het nie. Kerk gaan oor die Here, nie die self nie.
En ons lig ons lof, want die Here van die hemele is hier ...
Ons hou Nagmaal. Families staan by mekaar en bid. Dit is ʼn geleentheid om met die Here te “connect”.
Dit is die doel van Nagmaal.
Brood. Vir versoening.
Wyn/druiwesap vir ʼn ewige lewe.
Jesus het dit vir ons gedoen.
As jy nog nie by die tafel saam met Jesus gesit het nie, is vandag ʼn geleentheid.
Nou.
Die Here van die hemele het nie ʼn afspraakboek nie. Hier en nou is die plek. Vra Hom oor alles. Vra vir leiding in alles. Hy wag vir jou, angstig, want Sy liefde is onbeskryfbaar.
As jy nog nie het nie, gooi jouself, jou omstandighede, jou hele menswees voor die Here. God is goed, word deel, dit kos jou niks, dit maak alles makliker, want die Here van die hemele ...
Bo alles wil God ons gebruik om toonbeelde van versoening en liefde vir ander te wees.
LEES:
Mediteer
Is jy by die tafel? Wat is nodig om geestelik gesond by die tafel te wees?
Bid:
Vader, ons is hier, reg om U werk voort te sit. Lei ons om U liefde, U hart vir ander te gee tot U eer. In Jesus naam. Amen.
Spreek Lewe!
Ek is gekies deur die Here omdat ek in Sy oë oukei is.
Aanbidding:
Won’t start now – Seph Schlueter

Dag 2: Intimiteit en Seks
As kind op ʼn plattelandse dorp in die Noord-Kaap het hierdie skrywer nooit ʼn preek uit Hooglied gehoor nie. Inteendeel, ek het dit op 57-jarige ouderdom vir die eerste keer gehoor en gedink dit is fantasties. Hierdie is ʼn sensitiewe onderwerp waaroor die kerk soms skaam voorkom oor om te praat, maar nie híér nie. Kom ons werk saam met erns deur hierdie week se dagstukke; ons kinders het dit nodig en onsself het nodig om te weet wat ons kerk se standpunt is oor seks en intimiteit.
Daar is ʼn rede hoekom God man en vrou skape. In Sy insig en wysheid bepaal die Here dat dit wat hy die liefste het (ons), net kan bestaan as ʼn man en vrou seks het. Een orde. Een man en een vrou. Dit is wat Lewende Woord glo. Gen. 2:24. Maar dit is uiters belangrik om te weet dat ons lewens nie altyd lyk soos die kerk glo nie, en die kerk mag nooit veroordeel nie. As jou lewe iewers uitmekaar getuimel het, is dit oukei. God maak gesond, Hy wil verhouding bou met ons, God veroordeel nie, die kerk is Sy bruid. Hy wil hê dat ons moet wag vir Hom om weer te kom.
Geduld. Wag. Die huwelik is ʼn instelling van God self. Hy is getrou en kom weer. Ons wag omdat ons glo in Sy wederkoms. Dieselfde geld vir seks. God wil hê ons moet wag totdat die huwelik volstrek is in die kerk.
Die hedendaagse media en films staan heeltemal teenoor hierdie beginsel. Boy meets girl, boy does not date girl, they end up in bed on Day 1. Die keuses wat ons en ons kinders maak oor ons liggame sal verreikende gevolge in ons lewens hê – vir altyd. God genees wonde wat ons opdoen en Hy doen dit met liefde, maar die gevolge sal altyd daar wees. In die wêreld is baie stukkende mense wat uit stukkende verhoudings kom, wat stukkend gebreek is deur verkeerde keuses en soms nie eers uit eie keuse nie. God wil en sal dit genees.
Maar ons moet ons kinders help en leer. Die Here wil ons help om suksesvolle, dinamiese verhoudings te vorm – een man, een vrou. Die wêreldse kultuur van “ek wil nou” geld nie vir ons nie, dogters en seuns moet hul liggame rein hou vir die huwelik. Dit is waar Hooglied inkom.
Die laaste vers in Hooglied 1 is: “Die balke van ons huise is seders, ons paneelwerk sipresse.” Tot en met vers 17 in Hooglied 1 is die gesprek nogal intiem en dui dit daarop dat hierdie twee smoorverlief is, dat hulle intiem wil wees. Maar Salomo weet van beter. Hy het seders gebruik in die tempel wat hy laat bou het, reeds omdat hierdie bome so ʼn sterk struktuur het wat in uiterste omstandighede gevorm word. Salomo verstaan dat ʼn goeie verhouding, een wat sal hou vir altyd, geanker moet word in geduld totdat die huwelik voltrek is. Hy draai briek aan. Hy herinner homself en sy liefling dat hulle albei uit huise met struktuur kom, huise met waardes en dat hulle moet wag. Albei het huise gehad met pa’s wat leiding gee. En hier is ʼn groot beginsel vir nuwe verhoudings: Like minded, same-principled people journey together. Is dit nie wat die huwelik moet wees nie?
LEES:
Mediteer
As jy in ʼn verhouding is, hoe gesond is dit? As jy nie in ʼn verhouding is nie, wat is jou verwagtinge?
Bid:
Vader, ons wil U eer met ons verhoudings, veral omdat U die Skepper daarvan is. Dankie vir die lekker van verhoudings wat gesond is. Bewaar ons verhoudings, Here, ons verstaan die belangrikheid van vertroue, seks en intimiteit binne U veilige raamwerk. In Jesus naam. Amen.
Spreek Lewe!
Ek is gerat, ontwerp vir gesonde verhoudings.
Aanbidding:
On My Knees – Red Clay Strays
Hierdie lied is nie waaraan ons lesers gewoond is nie, maar hierdie jong man en sy groep se musiek het my aangeraak. Ek hoop daar is ʼn paar van julle wat daarvan sal hou.
Dag 3: Skeppingsorde versus die wêreld
Gen1:27-28 is baie duidelik oor twee goed. God het die man en vrou na Sy beeld geskape en Sy opdrag is dat hulle meer moet word (wees vrugbaar) en oor die aarde moet heers. Mense kan net meer word op een manier.
Die Skeppingsplan is duidelik. Daar is iets van God se beeld opgesluit in ʼn gesonde sekslewe binne die huwelik. Mense wat mekaar liefhet, het gereeld seks. Daar is niks vuil daaraan nie. Godgegewe seks is bedoel om geniet te word, om intiem met mekaar te wees. God seën huwelike met seks, maar daar is ook ʼn waarskuwing: seks buite die huwelik is nie deel van God se plan nie. Buite-egtelike verhoudings is nie deel van God se plan nie.
Spreuke 17-20 (The Message) stel dit so:” Your spring water is for you and you only, not to be passed around among strangers.
Bless your fresh-flowing fountain! Enjoy the wife you married as a young man! Lovely as an angel, beautiful as a rose— don’t ever quit taking delight in her body. Never take her love for granted! Why would you trade enduring intimacies for cheap thrills with a prostitute? for dalliance with a promiscuous stranger?”
Buite-egtelike verhoudings lei tot geestelike skade. Daar is nog ʼn faktor wat verhoudings verwoes. Pornografie. In vandag se lewe is dit so maklik en is dit oraloor. Dit is ʼn werklike bedreiging, nie net vir ons nie, maar veral ook vir ons kinders. Emosionele afstomping as gevolg van pornografieverslawing is ʼn werklikheid; so ook fisiese probleme. Hierdie goed is alles aanslagte op die skeppingsorde, op die huwelik wat deur God self ingestel is. Ons mag nie toelaat dat ons lewens hierdeur verwoes word nie. As verslawing ʼn probleem is, maak ʼn plan. Kom uit die vangwip van die Vyand.
In Hooglied 2 (vandag se leesstuk) sien ons hoe die voornemende bruid en bruidegom mekaar die hof maak en spesifiek commit aan mekaar. Dit is nodig om deur so ʼn tydperk in ʼn verhouding te gaan, want dit bou vertroue en vriendskap, albei baie belangrike bestanddele in ʼn suksesvolle verhouding.
LEES:
Mediteer
Hoe leer ek my kinders oor die gevare van pornografie? Besef ekself hoe gevaarlik dit is?
Bid:
Vader, ons wil U eer met ons huwelike en verhoudings. Ons wil U Skeppingsorde handhaaf, nie net om U te eer nie, maar ook omdat ons besef dat die teenoorgestelde in die vyand se hand speel om te verwoes en verneder. In Jesus naam. Amen.
Spreek Lewe!
Ek is veilig in Sy raamwerk en in Sy plan vir my.
Aanbidding:
Come Jesus Come – Stephen McWhirter

Dag 4: Iets wat almal wil hê
Israel se regering het die Ysterkoepel (Iron Dome) laat ontwikkel om hulle te beskerm teen missielaanvalle. Hierdie koepel spoor alle aanvalle betyds op en aktiveer dan maniere om vlieënde voorwerpe af te skiet. Sekuriteit. Veiligheid. Beskerming. Ek is seker dat die mense wat daar bly baie meer veilig voel sedertdien.
Wanneer ons in ʼn liefdesverhouding is, wil ons ook veilig voel. Sekuriteit gaan nie net oor vertroue nie, daar is ʼn geestelike aspek aan die huwelik wat ekstra beskerming verleen. 1 Kor. 6:18-20 (NIV) is baie spesifiek oor seksuele misstappe:” Run from sexual sin! No other sin so clearly affects the body as this one does. For sexual immorality is a sin against your own body. Don’t you realize that your body is the temple of the Holy Spirit, who lives in you and was given to you by God? You do not belong to yourself, for God bought you with a high price. So you must honor God with your body.”
Eer God met jou liggaam. Sjoe, dit is ʼn kragtige opdrag. Is jy in, jongmens? Wat van jou getroude man en vrou?
1 Kor. 7:2 bevestig dat die ekslusiewe seksuele verhouding binne die huwelik ʼn konsep is wat deur God ondersteun word en dat seksuele begeertes op ʼn heilige en eerbare manier bestuur moet word. Sulke optrede beskerm ons van immoraliteit en egbreuk.
1 Kor. 7:5 verbind seksuele intimiteit met beskerming teen die Vyand se aanvalle. ʼn Gebrek aan selfbeheersing maak ons kwesbaar vir sonde. Bestendige intimiteit binne die huwelik dien as ʼn Ysterkoepel teen hierdie weerloosheid.
LEES:
Mediteer
Wat weet jy nou van seksuele verhoudings wat jy wens jy geweet het toe jy jonger was? Hoe gaan ons ons kinders hiervan leer?
Bid:
Vader, doankie dat U ons beskerm in die huwelik. Dankie dat ons mekaar kan beskerm deur terselftertyd Uself en mekaar te eer met ons getrouheid aan mekaar. Maak ons sterk, Here, sodat ons die Vyand se aanvalle kan weerstaan. In die naam van die Here, amen.
Spreek Lewe!
Ek is op ʼn goeie plek in my verhoudingslewe met die teenoorgestelde geslag. As ek nie is nie, weet ek nou wat ek nodig het om te doen (roep die Here om in te tree).
Aanbidding:
Shout to the Lord – Jessie Harris

Dag 5: Die kuns van intimiteit
Hooglied is in vier dele opgedeel en wanneer ons ʼn bietjie dieper ondersoek instel, sien ons dat dit doelbewus so beplan is. Onthou hoe slim Salomo was. Onthou dat hy sy pa, Dawid, se gawe van die pen ontvang het. Hier skryf hy iets soortgelyks aan ʼn toneelstuk. Die doel is nie om oor seks te praat nie, of om dit cheap te maak soos wat die wêreld tans doen nie. Die doel is om Goddelike verhoudings se verloop te beskryf en ook te verduidelik hoe ʼn man en vrou in ʼn verhouding mekaar moet hanteer en respekteer.
Die vier dele van Hooglied is spesifiek so opgedeel. Elke deel het ʼn begin en einde. Deel 1 gee konteks en milieu. Deel 2 is die dating fase. Deel 3 is die huweliksdag, gaste kom aan en Deel 4 is die huweliksaand. Dis nou natuurlik waar die seks eers gebeur. Salomo leer sy volk om te wag tot die huwelik, dat seks deur God gegee is, dat ons mekaar se sekuriteit in die huwelik is en dat ons mekaar beskerm. Hy sê vir sy bruid dat hy haar sal beskerm. Salomo het sestig soldate, sê hy vir haar. Hy verstaan dat sy dalk gestres is.
Nog iets wat belangrik is om te onthou is dat Salomo ten tyde van hierdie skrywe die koning is van Israel. Hy moes ten doel gehad het om sy volk te leer oor hoe verhoudings en die huwelik moet wees. Natuurlik sou sy intensie ook wees om die reinheid van ʼn mooi verhouding te illustreer. Wens jy nie dat ons president ook inspraak wil maak en aksie neem teen byvoorbeeld die magdom tienerswangerskappe nie?
Maar hier is die kern van vandag se boodskap is dat Salomo die kuns van ʼn intieme verhouding ken. Sy bruid kom duidelik uit ʼn minder gegoede gesin, sy moet help boer (onthou dit), maar hulle waardes is dieselfde. Hulle het goeie pa’s wat kyk na hulle. Salomo weet dat sy boer. Daarom gebruik hy metafore wat skape vergelyk met haar tande – ek glo sy het pragtig geglimlag. Hy gebruik elemente wat vir haar sekuriteit gee, haar boerdery. En daarmee maak hy haar rustig. Dit is nie manipulasie nie, dit is ʼn eerlike man wat omgee vir sy vrou en haar diep liefhet.
In Hoofstuk 4 van Hooglied word slegs die laaste paar verse aan die seksdaad (sjoe, dit is ʼn nie ʼn lekker woord nie, ek leer graag van iets beter) toegeken. Dit is belangrik. Die wyse Salomo besef dat seks belangrik is in die huwelik, maar dat hofmakery, sekuriteit, vertroue en geduld nog meer belangrik is. Dit is waaroor dit gaan.
LEES:
Mediteer
Ons kerk is pro-lewe, pro-huwelik en pro-reinheid. Hoe voel jy daaroor?
Bid:
Vader, ons wil die kuns van hofmakery by U leer. Lei ons deur U Gees om ons dit reg te kry. Dankie, Heilige Gees, dat U ons lei om uit moeilikheid te bly. In die naam van Jesus, amen.
Spreek Lewe!
Ek verstaan Hooglied nou beter.
Aanbidding:
Pure + Pour my Love – Anna Byrd