Go Deep 23 November 2025

FAMILY FOCUS – VAN TOESKOUERS TOT DEELNEMERS !

De Villiers Nel

’n Familie is dikwels ’n sendingsveld. Wat is jou rol in jou groter familie as kind van God?

 

Dag 1: Individualisme

In vandag se tyd word individualisme sterk beklemtoon. Die frases “live your truth” en “you do you” word gereeld gehoor. Die fokus en betekenis van die lewe draai na binne, weg van familie en gesin. Jou rol in jou familie raak vaag, en die rol van familie word geminag en selfs verwerp. Dít is die denkwyse van individualisme.

“Radical individualism is a worldview where the individual is seen as the sole source of meaning, identity, and moral authority” – Robert Bellah

Die effek van hierdie individualisme is dat die rol en roeping wat jy in jou familie het, heeltemal weggeneem word.

Het jy al gedagtes of aksies gehad waar jy besluit het om sekere familielede maar net af te skryf of net nie meer kontak te maak nie, omdat jy voel hulle is verkeerd? Jy rasionaliseer dat jy weer kontak sal hê wanneer húlle “regkom”, reg optree of jammer sê. Is hierdie denkwyse nie algemeen in ons samelewing nie? Dit word as normaal gesien, of selfs “Christelik”, omdat jy nie te doen wil hê met dié wat anders as jy is of “verkeerd optree” nie. Jy breek so vinnig moontlik kontak, want familiebande is nie meer só belangrik nie.

“Family is the first school of love, where we learn to give and receive” – Jean Vanier

“Hy sal vir jou ’n boodskap meedeel waardeur jy verlos sal word – jy en jou hele huis” (Hand.11:14).

In die verhaal van Cornelius en Petrus in Handelinge 11 sien ons dat dit wat Cornelius ontvang, nie net vir hom as individu is nie, maar vir sy hele huis. Hierdie huis is nie die fisiese gebou nie, maar die mense in sy huishouding (Grieks: oikos). Hierdie oikos is “die kring van mense wat daagliks saamleef of in verhouding tree.”

"En hulle het geantwoord: "Glo in die Here Jesus, en jy en jou hele huishouding sal verlos word" (Hand.16:31)

Jou oikos is die mense met wie jy op ’n daaglikse basis te doen kry—by die huis, by die werk of by die kerk, daar waar jy beweeg. Dit is die mense op wie jy invloed het, en waar jy jou roeping uitleef.

Wanneer God iets doen vir Sy mense, is dit nooit net vir die individu alleen nie. Dit het altyd ’n groter effek op die oikos van daardie persoon.

Lees:

Hand. 11:13-14

Hand. 16:25-31

Mediteer:

  • Is daar mense in jou lewe wat jy afgeskryf het, of met wie jy nie meer moeite wil doen nie? Hoekom?
  • Waarop fokus jy in jou verhoudings met mense in jou sfeer—of fokus jy net op jouself?
  • Watter mense in jou Oikos het nodig dat jy moet uitreik? Het jy nodig om enige van hulle te vergewe?

Bid:

Vader, dankie dat U nie U liefde beperk nie, maar dat dit uitkring na al my geliefdes en selfs dié met wie ek sukkel in my lewe. Help my asseblief om met U liefde lief te hê. Amen

Bonus: Spreek Lewe!

Dit wat God in my lewe doen, is nie net vir myself nie, maar vir elke persoon in my invloedsfeer!

Aanbidding:

Love is Greater – White Dove Bible Songs

Dag 2: Toeskouer of deelnemer?

’n Toeskouer in ’n wedstryd of opvoering is iemand wat op die kantlyn sit en aanskou. Dit is iemand wat van ver af ondersteun of kritiseer. Hierdie persoon is nie aktief betrokke in dit wat gebeur, daar waar daar saam geveg, gespeel of opgevoer word nie. As toeskouer is daar ’n afstand tussen dit wat op die veld of verhoog gebeur en waar jy sit en aanskou. Jy kan maklik ’n opinie vel, maar jy neem nie self deel nie. Jy kan jouself ook maklik distansieer.

’n Deelnemer, aan die ander kant, is aktief betrokke; werk saam tot die doelwit voor oë; en lewer nie net kommentaar nie, maar ook ’n bydrae wat ’n verskil maak. Daar is deelname, kontak, broederskap, gemeenskap (Grieks: Koinonia). Dit is fellowship of community. Jy draai nie sommer net om en loop weg van hierdie verbondenheid nie.

In vandag se individualistiese kultuur word Koinonia maklik misgekyk. Vir die eerste kerk was hierdie fellowship of community, hierdie verbondenheid, uiters belangrik en ’n natuurlike uitvloeisel van mense wat aan Christus behoort.

“En hulle het volhard in die leer van die apostels en in die gemeenskap en in die breking van die brood en in gebede” (Hand. 2:42)

Hulle het saam die brood gebreek (nagmaal gehou), van huis tot huis gegaan en verbondenheid beleef (Koinonia). Hulle het deelgeneem aan mekaar se lewens en daar was gereelde kontak.

In Hand. 10:1–8 lees ons dat Cornelius en sy hele huis godvresend was (vers 2), en dat twee van sy huisbediendes en ’n soldaat ingesluit was (vers 7). Hierdie was mense wat nie noodwendig saam met hom in sy huis gewoon het nie, maar wat saam met hom die lewe gedoen het.

Dit is wat Koinonia is: om kontak te hou, om die lewe saam te doen, om betrokke te wees, saam te lag en saam te huil; saam te bloei; om aktief deel te neem. Hierdie verbondenheid is een van die grootste gawes van Christenskap — om mense nader te trek, in te nooi, en deel te maak van jou lewe. Dit is deel van dit waartoe God ons geroep het!

Lees:

Hand. 16:25-31

Hand. 2:41-42

1 Kor 10:16

Hand. 10:1-8

Mediteer:

  • Wie is daar in jou lewe wat jy kan nader trek en deelmaak om die Koinonia van Christenskap prakties uit te voer?
  • Hoe lyk jou Koinonia in ander mense se lewens?

Bid:

Vader, dankie vir die sfeer van mense wat U om my geplaas het; dat ek geliefdes het en mense wat vir my belangrik is. Help my asseblief om betrokke te wees in hulle lewens, om ’n verskil te maak op ’n praktiese manier, en om hulle toe te laat om deel te wees van my lewe. Help my om nie op die kantlyn te staan en te kyk nie, maar om deel te neem aan die lewe, om brood te breek saam met ander, en te investeer in dit wat vir U belangrik is. In Jesus se Naam, Amen.

Bonus: Spreek Lewe!

Ek is betrokke in dié mense se lewens wat in my sfeer is.

Aanbidding:

My Family – Jamie MacDonald

Dag 3: Cowboy

Die cowboy is nóg ’n voorbeeld van ’n individualistiese perspektief. Dit is ’n persoon wat op homself aangewese is. Alles gaan oor homself. Miskien tree hy as ’n held op, maar elke dag wanneer hy ry, ry hy weg na ’n plek van isolasie.

Dit is nie hoe God ons gemaak het om te funksioneer nie. Hy het ons gemaak vir gemeenskap met mekaar. Ons is geroep om deel te neem in Christus. In Christus kan ons nooit individualisties wees nie. Dit kan nooit sonder mense wees nie, en dit kan nooit net sommige mense insluit en ander uitsluit nie. Jy kan nie jou roeping uitleef en mense uitsluit nie.

Die idee van Koinonia is wonderlik, maar dit is nie altyd maklik om met almal in jou lewe uit te voer nie. Dit is makliker om betrokke te wees en ’n nader pad met sommige mense te stap, maar met ander beleef jy frustrasies. In jou sfeer van mense is daar dié wat jou irriteer, teleurstel of seermaak.

“Community is the place where the person you least want to live with always lives” – Henry Nouwen

Dit is juis in hierdie verhouding dat jy moet besluit of jy ’n toeskouer of ’n deelnemer gaan wees. Gaan jy geduld en genade uitleef?

“Daarom, as daar enige aansporing in Christus is, as daar enige troos uit die liefde is, as daar enige gemeenskap van die Gees is, as daar enige innige meelewing en ontferming is, maak dan my blydskap volkome deur eensgesind te wees – een in liefde, een van gees, een in denke; deur nie iets uit selfsug of ydelheid te doen nie, maar in nederigheid die een die ander hoër te ag as homself; deur elkeen nie net na sy eie belange om te sien nie, maar ook na dié van ander” (Fil.2:1-4).

God se wil geskied slegs in die gemeenskap van die Gees — in die Oikos en Koinonia van die lewe!

Lees:

Fil. 2:1-4

Mediteer:

  • Oikos is die mense in jou wêreld met wie jy te doen het.
  • Koinonia is jou aktiewe deelname en kontak met die mense in jou lewe, al is hulle moeilik.
  • Wie is my Oikos?
  • Hoe leef ek Koinonia uit?
  • Hoe leef ek Koinonia uit na die moeilike mense in my sfeer?

Bid:

Vader, U het vir my mense gegee met wie dit vir my moeiliker is om oor die weg te kom, uit te reik en deel te neem in hulle lewens. Sal U my help om genade en geduld uit te leef en om te begin fokus om juis U liefde met daardie mense in my lewe te deel. Amen

Bonus: Spreek Lewe!

Ek leef genade en geduld uit, sodat selfs die moeiliker mense in my sfeer, God se liefde en nabyheid kan beleef en leer ken!

Aanbidding:

Jesus I Love You – The Finding

Dag 4: Verwerplik

Terwyl Petrus hom afsonder om te bid, sien hy in ’n visioen iets soos ’n groot doek met verskillende diere daarop. Die Here sê vir hom om hierdie diere te slag en te eet, maar Petrus weier, omdat van hierdie diere as onrein of besoedel beskou word op grond van Ou Testamentiese beginsels. God maak dit egter duidelik aan hom dat “dit wat God rein gemaak het, jy nie as onrein mag beskou nie” (Hand. 10).

Hy weet dit nog nie, maar Petrus gaan binnekort om vir Cornelius en sy hele huishouding te bedien. Volgens sy Ou Testamentiese beginsels mag hy nie met hierdie mense omgaan, in hulle huis ingaan of saam met hulle eet nie. In hierdie visioen berei God vir Petrus voor vir die taak wat voorlê. God leer vir Petrus dat Hy lief is vir mense — mense wat Petrus geleer is om te vermy. As God hierdie mense as rein verklaar, wie is Petrus om hulle af te skryf? Hoe kan hy hulle dan etiketteer?

“Die dag daarna het hy in Caesarea aangekom. Cornelius was hulle te wagte, en het reeds sy familie en naaste vriende bymekaar laat kom. Toe Petrus binnekom, het Cornelius hom tegemoetgegaan, voor sy voete neergeval en hom begin aanbid. Maar Petrus het hom opgehelp met die woorde: “Staan op, ek self is ook net 'n mens”. En terwyl hy met hom praat, het hy na binne gegaan en daar baie mense bymekaar aangetref. Hy het vir hulle gesê: “Julle weet dat dit vir 'n Joodse man verbode is om met iemand van 'n ander volk te assosieer of hom te besoek. God het egter aan my getoon dat ek geen mens as besoedel of onrein mag beskou nie” (Hand. 10:24-26).

Petrus het toe die goeie boodskap aan Cornelius en sy oikos gebring, en so het hulle tot bekering gekom en is met God se Gees gedoop. In hierdie oomblik besef Petrus dat God niemand volgens die uiterlike beoordeel nie (vers 34); dat God se oikos belangriker is as die kategorieë of reëls wat ons voorhou; dat ons nie mense mag verwerp nie; en dat God vir ons ’n roeping gee om mense lief te hê en deel te maak van Sy familie.

Lees:

Hand. 10:9-34

Mediteer:

  • Het jy enige vooropgestelde idees of etikette oor mense met wie jy te doen kry?
  • Kan jy mense sien na hulle Goddelike potensiaal?
  • Is daar mense in jou kringe, wat die potensisaal het om God te leer ken en wag vir jou etikette en vooropgestelde idees om te val?
  • Wat is God se waarheid en roeping vir jou, oor die mense in jou sfeer?

Bid:

Vader, U het my lief met ’n liefde wat opreg is, ’n liefde wat Homself neerlê vir my. Vader, dat ek U liefde kan ken om ander te kan lief hê en deel te maak van U familie. In Jesus se Naam. Amen

Bonus: Spreek Lewe!

Ek laat val my skanse, etikette en vooropgestelde idees, sodat mense in my sfeer God kan leer ken.

Aanbidding:

Another Like You – David Funk

Dag 5: Koinonia

In ons oikos is daar altyd iemand wat moeilik is om te hanteer—iemand wat maak dat ons eerder as toeskouers wil optree, wil terugtrek of wag totdat hulle “beter” is. Om ’n deelnemer te word, kies ons om daardie mense met liefde te hanteer, en skep ons ’n geleentheid om koinonia te bied.

Cornelius het dit moontlik gemaak vir sy hele familie om kerk te beleef—om versoening met God te beleef.

Jesus Christus het vir ons ’n bediening van versoening gegee, en daarom het ons nodig om na mense te kyk deur Sy oë, nie meer volgens die vlees nie (2 Kor. 5:16–18). Ons het nodig om Sy liefde uit te leef en Sy werk te verteenwoordig in ons verhoudings.

“Jou lewe as Christen moet ongelowiges laat twyfel aan hulle ongeloof in God.” – Dietrich Bonhoeffer.

Kies teen afwesigheid en passiwiteit! Moet nie die geleentheid mis om jou familie lief te hê nie. Elke familie is geroep om soos ’n kleiner weergawe van die kerk te wees—’n gemeenskap van Christus se liefde.

Ons roeping: om ons oikos te omskep in koinonia—’n huishouding wat ’n lewende gemeenskap van Christus is! Om deel te neem in ons familie en nabye sfeer van mense, en God se liefde só uit te leef dat almal wat met ons te doen het, God kan beleef.

Lees:

2 Kor. 5:16-18

Mediteer:

  • Is jou familie ’n oikos, of word dit ’n koinonia?
  • Neem jy deel? Behou jy kontak?
  • Is jy aanwesig in moeilike tye en nederig in tye van konflik?
  • Watter stappe kan jy neem om jou oikos te verander in koinonia?

Bid:

Vader, U het my lief en daarom skuif my fokus na om ander lief te hê soos wat U my lief het. Help my asseblief om my roeping uit te leef, om in my sfeer van mense, my geliefdes saam te bring in koinonia. Amen

Bonus: Spreek Lewe!

Ek is geroep om my oikos te verander in koinonia!

Aanbidding:

The One You Love – Elevation Worship

For the One – Brian & Jenn Johnson

The Blessing – Kari Jobe & Cody Carnes