Go Deep 15 FEBRUARY 2026

SOEK EERS!

Neville Goodchild

Profeteer die Woord en vorm die toekoms

Dag 1: Doop

Vandag se diens skop af met ‘n doop geleentheid vir ‘n hele klompie mense wat die keuse gemaak het om hulle te laat doop. Dit is ook baie gepas, want die Christen se doop is ‘n belangrike stap van gehoorsaamheid en deel daarvan om die Koninkryk van God en Sy geregtigheid, te soek. Niemand kan vir ‘n ander persoon die keuse maak om gedoop te word nie. Die doop spreek van ‘n persoonlike verhouding met Jesus Christus. Elke Christen wat reeds deur die doopwater gegaan het en ook die wat die doping met die Heilige Gees ontvang het, word met ‘n vreugde en blydskap vervul vir die nuwe dopelinge. Ek het nie met my doop besef hoe wonderbaar en kragtig hierdie openbare belydenis ten opsigte van die nuwe Leierskap in my lewe, was nie, maar God het geweet. As ‘n mens terugkyk en dit in herrinnering roep, kan mens net stil word en weet dat God is Almagtig en doen soveel meer as wat ons ooit kan dink of droom.

Diegene wat die Koninkryk van God en Sy geregtigheid eerste soek sal die volgende elemente beleef:

  • Groei in hulle persoonlike verhouding met Jesus Christus ons Verlosser.
  • Hulle sal ten minste een keer gedurende die week, weer teruggaan na die preek wat hulle Sondag oggend gehoor het en oor die preek mediteer en dit van toepassing maak op hulle eie lewe.
  • Opdaag vir gemeenskap van gelowiges, nie net by die kerk nie, maar by die selgemeente ook of by ander geleenthede.

Die belangrikste gebod wat die Here gegee het, is dat ek die Here my God moet liefhê met my hele hart, al my krag en verstand, en die twede gebod, wat hiermee gelyk staan is dat ek moet my naaste liefhê soos myself. Verhouding met God en met mense is sentraal in ons Christelike wandel. Ons kan nooit sê dat ons lief is vir God, maar dat ons nie lief is vir mense nie. Iemand wat lief is vir God, is lief vir mense. Ons liefde vir God en mense sal groei soos wat ons groei in ons verhouding met God.

Die vyand sal altyd probeer om ons weg te hou van God en van medegelowiges af, wat ons kan help om die Waarheid en Woord te glo oor ons lewe.  Hy kom met ‘n leuen of ‘n halwe waarheid om te poog om ons te isoleer van God en van mense.

“There’s unity in diversity.” Hierdie gesegde het die wêreld probeer steel by die Kerk, maar dit het nie gewerk nie. Hierdie ‘diversity’ verwys na ons verskille in persoonlikheid en gawes. Dit is ‘n sterkpunt van die kerk, want waar die een swak is, is die ander een sterk. Saam kan ons dus baie meer doen as wat ons sou kon doen alleen. Om geïsoleerd te wees is baie gevaarlik, want die Woord sê dat my beste pogings is soos vuil lappe. Daar is eenheid in ons verskillendheid. Ons kan saam groei, al benader ons die situasie van verskillende kante.

LEES:

Matt. 6:33

Mediteer:

  • Die wat reeds gedoop is kan weer daaroor nadink en herroep wat dit vir jou beteken het in jou verhouding met God as deel van bekering en wedergeboorte. 
  • Vir diegene wat nog nie gedoop is nie en dalk nie kan verstaan waarom dit so belangrik is nie, bid en lees oor die doop. Vra die Heilige Gees om die waarheid oor die doop te openbaar. Indien U hulp nodig het, kontak gerus 'n selleier of 'n permanente lid by die kerk vir meer inligting en persoonlike leiding.
  • Dink na oor jou persoonlike verhouding met God en met mense. Is daar groei in hierdie area van jou lewe?

Bid: 

Abba Vader dankie vir die werk wat Jesus Christus gedoen het aan die kruis en die redding wat Hy vir ons bewerk het. Dankie dat elkeen van ons kan deel in die oorwinning wat Jesus vir ons behaal het en in die openbaar kan verklaar dat ons Jesus as Verlosser en Saligmaker aangeneem het. Dankie vir die doop waar ons onsself en ons sondige natuur in die openbaar kan neerlê en kan opstaan as nuwe skeppings in Jesus Christus. Dankie Here dat ons kan liefhê en genade betoon omdat U eerste liefgehad het, selfs tot in die dood. Amen.

BONUS: SPREEK LEWE!

Die bekeringsdoop is ‘n wonderlike gebeurtenis wat ewige vrug dra in die gees, siel en liggaam.

Aanbidding:

There is Freedom (Official Lyric) - Josh Baldwin

Dag 2: Profeet van jou eie lewe

'1IN die begin het God die hemel en die aarde geskape. 2En die aarde was woes en leeg, en duisternis was op die wêreldvloed, en die Gees van God het gesweef op die waters. 3En God het gesê: Laat daar lig wees! En daar was lig. '

GÉNESIS 1:1-3 (Afr. 33/53 vertaling)

In vers een sien ons dat God het die hemel en die aarde geskape. In Jesaja lees ons dat God het alles perfek geskape. Dit is hoe Lucifer die aarde gekry het toe Lucifer met ‘n derde van die engele legioene op die aarde gewerp was uit die hemel uit. Daarna het gebeur wat gebeur waar Lucifer betrokke is. In vers twee sien ons dat die aarde was woes en leeg. Die duisternis was oor die wêreldvloed. Baie mense sal hiermee kan assosieer as hulle na hulle lewe kyk en sal sê: ‘My lewe is woes en leeg.’

Die verandering kom dan in die derde vers waar ons sien dat die Heilige Gees oor die water sweef en oor dit broei. God spreek dan woorde en alles word herstel en herskep en kom in orde.

Joh. 1:1 Sien ons dat Jesus was saam met God die Vader en die Heilige Gees toe die skepping plaasgevind het. Jesus som dan die waarheid wat Hy by sy Vader gesien het tydens die skepping, in die bergprediking op: “Maar, soek allereers die koninkryk van God en Sy geregtigheid en alles sal vir julle bygevoeg word.”(Matt.6:33) Net soos die Vader die skepping met woorde geskep het nadat die Heilige Gees daaroor gebroei het, net so word die funksie van koning, priester en profeet binne elkeen van ons geplaas. Eerstens om eer en offerande aan God te bring en dat deur die werking van die Heilige Gees woorde te spreek wat orde skep en alles herskep.  In 2 Petrus 1 Sien ons dat God aan ons al die gawes gegee het wat ons nodig het om die werk te doen waarvoor Hy ons geroep het. 

Ons moet die waarheid van die woord begin profeteer oor ons lewe deur die leiding van die Heilige Gees en dan sal ons beleef hoe ons lewe en wêreld in orde gebring word – God se orde. Dan moet ons begin doen en leef wat ons spreek. Doen wat jou hande vind om te doen. Reik uit na mense en leef na buite. Leef weg van jouself af en dan sal jou geloof begin vlerke kry. As jy sien hoe God deur jou werk en deur ander in jou lewe werk, begin jy groei in verhouding met God en ander mense. Dit is hoe die profetiese uitgeleef word as ‘n Christelike funksie. Elke Christen is ‘n profeet en moet in die eerste plek profeet wees van sy eie lewe. Deur effektiewe lering en deur te doen wat ons hande kry om te doen in die Here, onder leiding van God se Gees, groei ons as kinders van God na volwassenheid. Ons begin as kinders van God wat melkkos eet en wat nie self kan besluite neem nie. As ons kinders is kan ons nie vir onsself sorg nie en het ons hulp nodig, maar as ons volwasse is kan ons weer ouers wees (geestelike ouers) wat geestelike babas versorg en help om te groei na volwassenheid. Dit verg ‘n selfloosheid (vrug van die Heilige Gees) wat uitleef na ander en nie op self gefokus is nie.

Lees:

Matt. 6:33

Joh. 1:1

2 Pet. 1

Gen. 1:1-3

Mediteer:

  • Hoe lyk jou woorde oor jouself? Is jy profeet of doemprofeet oor jou eie lewe?
  • Miskien voel jy ook jou wêreld is “woes en leeg”. Spreek jy Vader se woorde - Sy Woord gelei deur die Heilige Gees oor jou wêreld of aanvaar jy maar die “status quo” as jou pakkie?
  • Gaan al jou energie, jou gedagtes en jou krag net in jou eie wêreld in?
  • Sien jy groei in jou geestelike lewe? Is jy op ‘n plek waar jy effektiewe lering kry om jou te help om te groei tot volwassenheid in Christus Jesus?
  • Vra Vader om jou te help om profeet van jou eie lewe te word en vra Hom om jou te help om jou fokus bietjie weg te draai van jouself en te skuif na ander mense.

Bid:

Dankie Vader dat U my die outoriteit in Christus gegee het om profeet oor my eie lewe te wees. Vader help my om my eie wêreld tot orde te roep deur my woorde van outoriteit. Vader help my asb om sensitief te wees vir ander mense om my se wêrelde en om my fokus daarnatoe te skuif. Amen.

Bonus: Spreek Lewe!

Elke deel van my wêreld wat woes en leeg is spreek ek nou aan op grond van my gesag in Jesus Christus om in lyn te kom, soos wat Vader dit beplan het!

Aanbidding:

Holy Spirit Living God of God – Keith & Kristyn Getty (Official Lyric Video)

Dag 3: Bygevoeg…

'33Maar soek eers die koninkryk van God en sy geregtigheid, en al hierdie dinge sal vir julle bygevoeg word. '
MATTHÉÜS 6:33

Bygevoeg, soos wat dit gebruik is in hierdie skrif, beteken eintlik baie meer as wat ons dink. Kom ons kyk bietjie dieper na wat hier bedoel word.
Bygevoeg: advice, appoint, bow, commit, conceive, give, kneel down, lay (aside, down, up), make, ordain, purpose, put, set (forth), settle, sink down.

God word ons persoonlike adviseer en is intiem betrokke by elkeen wat Hom aanvaar as die hoogste gesag in hulle lewe. Dit bly altyd ons verantwoordelikheid om besluite te maak wat reg is en wat lei tot goddelike orde in ons lewe. As God eerste plek in my lewe inneem gaan ek stil word by die Here en gaan ek deur die Heilige Gees die beste inspraak ontvang van Abba Vader.

Appoint dui daarop dat ons gesag ontvang en dat God ons aanstel om ‘n spesifieke werk te doen. Ons staan onder die gesag van Jesus Christus. Ons moet heers saam met Christus en die vyand weerstaan en die bose sal vlug.

To ordain. God stel ons as Christene aan in die amp as koning, priester en profeet, om die liggaam van Christus te dien. God stap nie net in ons lewe in en kanselleer alles wat ek voorheen geken het en lief voor was nie. God kom verander net ons fokus van onsself af na ander mense en hulle behoeftes. Jesus moet die middelpunt wees waarom alles draai, anders het ons ‘n skeefgetrekte prentjie. Sodra enige iets anders die middelpunt van my bestaan is en my eerste liefde bo Jesus Christus is (huwelik; maat; kinders; werk; finansies of geld), sal die prentjie skeef trek en nie werk soos dit moet nie.

Lucifer was op ‘n perfekte aarde gewerp en het van die eerste oomblik af begin om af te breek en te vernietig. Hy sal ons met graagte vernietig. As ons enige iets in die eerste plek in ons lewe toelaat, anders as Jesus Christus, kan God nie daar heers nie en dan kan ons ook nie daar heers nie. Ons gee dan gesag en posisie oor aan Lucifer in ons lewe en hy sal dan begin afbreek en verwoes.  

Lees:

Matt. 6:33

Jak. 4:7-8

Matt. 22:37-40

Ps. 141:9

Mediteer

  • Kan jy verseker sê dat Vader en Sy koninkryk eerste in jou lewe is? Dink voor jy sommer net antwoord en besin hieroor.
  • Hoe kan jy weet dat God en Sy koninkryk jou eerste prioriteit is?
  • Is mense in jou hart; is mense se ewige bestemming vir jou belangrik?
  • Jou ingesteldheid hieroor wys of God en Sy koninkryk jou eerste prioriteit is.

Bid: 

Vader dit is maklik om te sê U is my eerste prioriteit, maar help my dat dit regtig so sal wees. Help my om my lewensfokus te draai na U koninkryk, ander mense, U waardesisteem, U beginsels ens. Amen.

Bonus: Spreek Lewe!

Wat God bygevoeg het tot my lewe is Christus Jesus, die Heilige Gees en al die gevolge en effekte van God se seën op my lewe. God is die Lig en die Lewe.

Aanbidding:

Aaron Mendes – Names of God – Praise His Name

One Thing Remains – Jesus Culture (Lyric Video)

Dag 4: Purpose

'33Maar soek eers die koninkryk van God en sy geregtigheid, en al hierdie dinge sal vir julle bygevoeg word. '
MATTHÉÜS 6:33

In die wêreld gaan alles oor doelwitte wat nagejaag word en stappe wat gevolg moet word om die doelwitte te bereik. Ons wil ook graag weet dat my lewe dien ‘n doel en dra by tot iets groters. Mense wat beleef dat hulle elke dag in dit wat hulle doen hulle doel bereik is vervulde mense en hulle is tevrede  met waar hulle is, wat hulle besit en waaraan hulle hulle tyd spandeer. Hulle voel nie dat alles net ‘n gejaag na wind is wat mens net moeg maak en geen resultate het nie. Hierdie ‘purpose’ is wat bygevoeg word by iemand wat die koninkryk van God en Sy geregtigheid najaag. Met al ons menslike geskarrel en strewe kan ons nooit by ‘n punt van genoeg en van tevredenheid uitkom nie. Dit is ‘n baie stukkende plek, waar mens net wil moed opgee, want dit word net nie beter nie en dit voel of ons dit nie meer kan vat nie.

Net daar waar ons die koninkryk van God en Sy geregtigheid eerste soek sal dit vir ons bygevoeg word.

Lees:

Matt. 6:33

Mediteer:

  • Voel jy dat jou lewe “purpose” het? Voel jy dat jou lewe iets byvoeg tot die koninkryk?
  • Dink hieroor: jy kan tien-teen-een met dieselfde goed besig bly, maar as jy jou fokus verby die goed plaas en Vader en Sy koninkryk eerste stel, kan God die goed waarmee jy klaar besig is, deur jou gebruik tot voordeel van Sy koninkryk.
  • Vader wil “purpose” byvoeg tot jou lewe, die geheim is of jy bereid is om Hom en Sy Koninkryk eerste te soek. Nie net omdat dit reg klink nie, maar deur ‘n nuwe vlak van oorgawe aan Hom.

Bid:

Vader ek weet dat U moet eerste wees in my lewe, maar ek bely dat baie keer is daar ander goed wat ek bo U en U koninkryk prioritiseer. Vergewe my,maar help my deur U Gees se werking dat ek ‘n totale oorgawe sal kan maak aan U en U koninkryk. Ek kies nou om U en U koninkryk eerste te stel. Dankie Vader dat U “purpose” sal byvoeg as ek U werklik eerste stel. Amen.

Bonus: Spreek Lewe

Daar word “purpose” bygevoeg in elke area van my lewe, as ek U koninkryk eerste soek.

Aanbidding:

Lauren Daigle – A Life With Purpose| Powerful Christian Song